Leraars

image

Ds Henry Stopforth

Leraar

Ek is sedert April 2012 voltyds deel van die Rondekerk-familie. Ek beskou myself as ‘n omgee-mens. Ek is passievol oor mense, ek huil saam oor hulle pyn en hartseer en sal enige iets doen om hulle te help. Ek glo vas dat die Here enige pyn en seer kan genees en sien dit elke dag gebeur in die spreekkamer situasie. Ek is uitverkoop aan my Verlosser, Jesus Christus, en aan Hom behoort ek verewig! Ek is nie volmaak nie; ek is nie hoër of beter as enige ander mens nie; ek is ‘n soekende, honger, kaalvoet dissipel met ‘n diep liefde vir my Skepper. Naas my omgee-hart het ek ‘n groot passie vir die prediking, Bybelse lering deur middel van kursusse en berading. Ek streef daarna om my passie vir mense en hulle omstandighede uit te leef deur my geloof. Ek glo in integriteit, verhoudings, lewensvreugde en liefde in oorvloed!

Kontak inligting
image

Ds Etienne Pheiffer

Leraar

Ek is die nuutste (2016) toevoeging tot die leraarspan en is opgewonde om Rondekerk en die gemeenskap te bedien. Ek is ‘n mens-mens en wil graag met alle mense in ‘n gesonde verhouding staan om mekaar beter te leer ken hetsy dit nou ‘n vriendskapsverhouding of pastorale afspraak of tydens ‘n geestelike begeleidende gesprek is. Ons elkeen het ‘n roeping om as gestuurde God in die wêreld te verteenwoordig. Ons het mekaar nodig om koninkryksvennote te wees. Die Woord is vir my baie belangrik en ek wil net as leerling opnuut (Jes 50:4) luister. Hierdie ontdekking wil ek graag saam met medereisigers beleef. Ek is daarvan oortuig dat kleingroepe (dit is Bybelstudie- sel/omgee- en ander toerustingsgroepe) die ruimte moet wees naas die erediens waar ons saam God se rykdom kan beleef. Ek wil jou uitnooi om saam te reis. Ons het die Beste Nuus van alle tye wat ons met verantwoordelik met ander kan deel en uitleef. Kom ons omarm mekaar met liefde en leef vanuit die oorvloed wat ons uit genade ontvang het.

Kontak inligting
image

Ds Mariëtte Stopforth

Leraar

Ek het in 2013 deel geword van die Rondekerk. My hart lê veral by diegene wat minder bevoorreg is. Ek is op my gelukkigste as ek na 'n kleuterskool toe kan gaan in 'n armer gebied en daar met die kindertjies kan gaan speel en drukkies uitdeel. Daardie kindertjies is net so ontvanklik vir ons liefde en hulle deel met hulle groot harte ook soveel liefde uit. My passie lê definitief by barmhartigheid-bedieninge. Ek dink nie ons besef hoe goed die Here vir ons is en hoe baie ons elke dag het om voor dankbaar te wees nie. Verder geniet ek dit om dinge te laat gebeur - daar waar dinge georganiseer moet word sal jy my vind. Ek hou daarvan om 'n taak of projek of funksie aan te pak, te organiseer en dit af te handel. Enige 'event' wat moet plaasvind/georganiseer word gee vir my baie energie en beskou ek as 'n positiewe uitdaging. Ek beskou myself as 'n goeie helper. Ek dink die Here het vir my 'n hart gegee om mense te wil help op watter manier ookal. Ek het nie altyd die vermoë om oral te help nie, maar daar waar ek kan is ek altyd bereid om te help.

Kontak inligting